Thabo Mbeki
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Thabo Mvuyelwa Mbeki was president van Suid-Afrika tussen 14 Junie 1999 en 24 September 2008. Sy uittrede was vroegtydig, in reaksie op 'n oproep deur die ANC se uitvoerende komitee.
[wysig] Agtergrond
Mbeki is in Junie 1942 in die Idutywa-distrik in die Transkei gebore as die seun van anti-apartheidsaktiviste. Sy pa, Govan Mbeki, het in die Vyftigerjare 'n bekende ANC-leier in die Oos-Kaap geword. Mbeki het by die Lovedale-sendingskool skoolgegaan totdat 'n staking in 1959 sy onderrig daar opgeskort het.
Thabo het hom reeds op 14-jarige ouderdom by die ANC se Jeugliga aangesluit en as student vir die ANC begin werk. Nadat hy sy skoling tuis voltooi het, het hy na Johannesburg verhuis en in 1962 - in opdrag van die ANC - in ballingskap na Tanzanië gegaan. Vandaar is hy na Londen, waar hy 'n korrespondensiekursus in die ekonomie aan die Universiteit van Londen gevolg het.
Gedurende hierdie tydperk is hy verkies tot sekretaris van die African Students' Association (Afrika-studentevereniging). Terwyl hy in ballingskap verkeer het, is sy pa saam met ander ANC-leiers, insluitende Nelson Mandela en Walter Sisulu, by Rivonia in hegtenis geneem en lewenslank tronk toe gestuur.
Mbeki het in 1966 'n MA in die Ekonomie aan die Universiteit van Sussex in Engeland verwerf en in 1970 militêre opleiding in die Sowjet-Unie ondergaan. 'n Rukkie lank was hy 'n lid van die sentrale komitee van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Sy werksaamhede in die ANC het ingesluit assistent-sekretaris van die Revolutionary Council (Revolusionêre Raad).
Ná sy verteenwoordiging van die ANC in Botswana, Londen, Swaziland en Nigerië het hy die regterhand van die ANC-voorsitter, Oliver Tambo, in Zambië geword. As die hoof van die ANC se departement van inligting en publisiteit het hy in die middel- en laat-Tagtigerjare 'n aktiewe diplomatieke rol gespeel vir die ANC deur 'n aantal afvaardigings van wit leiers van Suid-Afrika in Dakar, Senegal, en in Engeland en elders te ontmoet.
[wysig] Aanhalings
- Jy moenie vergeet nie, ek is 'n terroris.
Thabo Mbeki -aan Andre P. Brink tydens 'n gesprek voor die ANC se ontbanning en terwyl hulle na Beethoven se Negende Simfonie luister.
- 'n Noodsaaklike en vereiste element van die Afrika-Renaissance is dat ons almal dit as ons taak opneem om haar aan te moedig wat die lood-gewig dra, om te rebelleer, om die belangrikheid van haar humaniteit op te dwing - die feit dat sy, in die eerste instansie, nie 'n pakdier is nie, maar 'n mens en Afrika-wese.
Thabo Mbeki -toespraak by die Verenigde Nasies-universiteit, 2 Oktober 2001, Tokio, Japan.


