Slag van Cuito Cuanavale
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Inhoud |
Inleiding
Tussen Augustus 1987 en Julie 1988 was die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) betrokke by een van die mees geskiedkundige veldslae wat die kontinent nog beleef het, rondom die Suid-Angolese dorpie Cuito Cuanavale. Genl. Magnus Malan het dit beskryf as "die grootste veldslag nog in die geskiedenis van hierdie land voor en ná Jan van Riebeeck" terwyl Kuba se pres. Fidel Castro verwys het na die geskiedenis van Afrika voor Cuito Cuanavale en ná Cuito Cuanavale. Agtergrond tot die geveg
In 1985 het FAPLA (die MPLA-regering van Luanda se leër) hul grootste offensief nog geloods deur met 20 brigades suidwaards te beweeg. Dit is suksesvol gestop deur die SAW en het Castro genoop om sy mag in Angola uit te brei tot 45,000 man. Vroeg in 1986 is 'n tweede poging tot 'n aanslag in die wiele gery toe die SA spesiale magte 'n Kubaanse vragskip vernietig en twee Russiese vragskepe beskadig het in die Namibe hawe in Angola.
Later dieselfde jaar het die Kubane en Russe begin met 'n magsopbou in Cuito Cuanavale, die basis van waar 'n nuwe offensief geloods sou word. Die plan was om UNITA se hoofkwartier in die omgewing te ontset. Die Suid-Afrikaners het teen daardie stadium daarin geslaag om SWAPO-insurgensie aktiwiteit te beperk tot ’n baie klein area. Sou UNITA deur FAPLA verdryf word uit Suid-Oos Angola, sou dit die weg baan vir SWAPO om die gevegsfront langs die Namibiese grens uit te brei en daarom was dit strategies belangrik vir Suid-Afrika om die offensief te keer.
Omstredenheid
‘n Groot debat heers steeds oor wie die oorlog gewen het met die Kubane wat daarop wys dat die Suid-Afrikaners nie daarin kon slaag om die dorpie te oorwin nie. Dit was egter nooit die doelwit nie. Van die Kuba-FAPLA alliansie se planne om Jamba in te neem, daarenteen, het nooit iets gekom nie. Hulle is deur die SAW gestuit. Altesame 4 785 Kubaanse en Angolese soldate het in 1987 gesneuwel teenoor 31 Suid-Afrikaanse soldate.[1] Kuba se vegters is na afloop van die oorlog vereer met medaljes terwyl die SAW publisiteit deurentyd doelbewus probeer ontwyk het.
Amptelike Naslaanbronne
- Bridgland, F. (1990): The War for Africa: Twelve Months That Transformed a Continent, Ashanti, ISBN: 9781874800125
- Heitman, H. (1990): War in Angola: The Final South African Phase, Ashanti, ISBN: 978-0620143707
- Malan, M. (2006): My lewe saam met die SA Weermag, Protea, ISBN: 9781869191139
- Renwick, R. (1997): Unconventional diplomacy in Southern Africa, Macmillan, ISBN: 9780333678237
- NGSA: 'n Vuil grensoorlog




