Piketberg
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Piketberg is 'n dorp in die noordelike Swartland van die provinsie Wes-Kaap. Dit is in 1836 gestig toe sir Benjamin D'Urban die plaas Grotefontein aan die kerkraad geskenk het. Die kerk het die dorp dan ook tot 1901 bestuur.
Net soos op baie ander dorpe in Suid-Afrika is die grootste gebou die NG kerkgebou. Piketberg spog met 'n besonder imposante voorbeeld wat deur argitek Carl Otto Hager in sy kenmerkende neo-Gotiese styl ontwerp is.
Die omgewing word oorheers deur die sandsteenkranse van die Piketberg-bergreeks wat bo die koringlande uittroon. Die skeure en grotte in die hange getuig van prehistoriese inwoners soos die Boesmans, wie se rotstekeninge goed behoue gebly het. Die vallei is nommerpas vir die verbouing van koring en die berghange vir appels, pere en perskes.


