Nelson Mandela Vrylating
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Inhoud |
Inleiding
Vir baie jare is Nelson Mandela en andere in die tronk hoofsaaklik vergeet, maar teen 1980 het 'n massiewe internasionale veldtog ten gunste van sy vrylating hom die bekendste gevangene in die wêreld gemaak. In die vroeë jare is hy en sy kollegas op Robbeneiland onderwerp aan harde en afbrekende toestande, maar hy het die respek van bewaarders en medegevangenes gewen en suksesvol gestry om die toestande te verbeter. Hy het nuwelinge wat as ondersteuners van teenstanderpartye aangekom het, deur die krag van sy persoonlikheid en oorredingsvermoë oortuig om by die ANC aan te sluit.In 1982 is hy na die Pollsmoor-gevangenis op die vasteland verskuif, waarskynlik om hom van ander te isoleer. In 1985 het president PW Botha hom sy vryheid aangebied mits hy geweld afsweer, maar hy het dié aanbod van die hand gewys en gesê dat net vry mense kan onderhandel. Hy het egter aanvaar dat hy hom moes beywer om 'n ontmoeting tussen die ANC en die Regering te bevorder en het, terwyl hy in die gevangenis was, begin met 'n reeks gesprekke met die Regering wat uiteindelik gelei het tot sy ontmoeting met Botha in Julie 1989 en daarna tot sy vrylating in 1990 nadat die Regering ooreengekom het om 'n demokratiese toekoms vir Suid-Afrika te beding.
2 Februarie 1990 toespraak
Op 2 Februarie 1990 sorg die lojale ondersteuner en ampsdraer van die Nasionale Party (NP), FW de Klerk vir die mees dramatiese wending in twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis toe hy tydens die parlementsopening verreikende maatreëls aankondig wat sou lei tot 'n nuwe politieke bestel, die sogenaamde "nuwe Suid-Afrika".
In sy toespraak belowe FW de Klerk onder meer die opheffing van die verbod op verskeie politieke organisasies en die beperkings op drie-en dertig ander organisasies, die onvoorwaardelike vrylating van Nelson Mandela en lede van verbode organisasies wat om dié rede aangehou word, die skrapping van medianoodregulasies en die regulasies wat op onderwys betrekking het, die opskorting van alle teregstellings totdat die parlement oor nuwe voorstelle besin het en die herroeping van die wet op die aanwysing van aparte geriewe.
Vrylating
Nelson Mandela word op 11 Februarie 1990 vrygelaat. Dit was die onmiddellike gevolg van F W de Klerk se opspraakwekkende toespraak met die Parlementsopening op 2 Februarie 1990 waartydens hy die ontbanning van die ANC en ander politieke organisasies aangekondig het.




