Jan van Riebeeck
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Johan Anthonisz.(Jan) van Riebeeck is op 21 April 1619 in Culemborg, Nederland, gebore as die seun van Anthony Jansz. Van Riebeeck en Elisabeth (Govertsdr.) van Gaesbeeck. Sy voorouers van vaderskant was afkomstig van Wyk by Duurstede, waar hulle belangrike bestuursposte beklee het. Die voorouers van moederskant was reeds teen die middel van die vyftiende eeu gesiene inwoners van Culemborg.Inhoud |
Batavia
In 1639 het hy as onderskeepsdokter in diens van die VOC getree en op 19 April 1639 met die Het Hof van Holland na Batavia vertrek. Die skip het skipbreuk gely langs die kus van Sierra Leone, maar Van Riebeeck het die reis met die Zutphen hervat. Hy het Batavia in Julie 1640 bereik, as sekretaris na Atjeh gegaan en is in 1642 bevorder tot onderkoopman. In April 1643 het hy saam met Jan van Elseracq na Nagasaki gegaan en tot Desember 1643 op die eiland Desjima gebly.
Daarna het hy na Tonkin gegaan om systof te koop vir die Kompanjie. Van 3 September tot 22 Oktober 1644 het hy in Desjima vertoef en op 23 Oktober weer na Tonkin gegaan. In 1646 is hy tot koopman bevorder en het gehelp om groot winste vir die Kompanjie te maak.
In 1647 het Anthony van Dieman se opvolger as goewerneur-generaal, Cornelis van der Lijn, geskryf dat die jong amptenare in Tonkin vir persoonlike gewin handel gedryf het. Van Riebeeck is saam met onderkoopman Lambert Heycoop na Batavia ontbied om hulle teen dié aanklagte te verdedig. Hy het Batavia op 2 Desember 1647 bereik.
Sy rekening is met 'n bedrag gedebiteer, maar hy het na Nederland teruggekeer met behoud van rang en gasie.
Onder kommandeur Wollebrant Geleijnsen de Jonghe het Van Riebeeck op die skip De Coninck van Polen na Nederland gevaar en van 10 tot 28 Maart 1648 aan die Kaap vertoef, waar hy gehelp het met die berging van die goedere van die gestrande skip De Nieuwe Haerlem.
Hy het Amsterdam op 7 Augustus 1648 bereik, maar kon nie daarin slaag om die vonnis wat in Batavia teen hom gevel is, in hersiening te laat neem nie en het op 23 Oktober 1648 uit diens van die Kompanjie getree nadat 'n groot bedrag aan hom uitbetaal is. Hy het dus vrywillig uit die diens getree en is nie ontslaan nie.
In Schiedam, waar sy stiefmoeder en sy suster nog gewoon het, het hy Maria de la Que(i)llerie ontmoet, met wie hy op 28 Maart 1649 in die Groote Kerk van Schiedam getrou het. Hulle het in Amsterdam in die huis aan die Egelantiersgracht, waar daar volgens die destydse beskrywing "de Samaritaan in die gevel staat" (vandag Egelantiersgracht 98), gaan woon.
Kaap de Goede Hoop
In 1951 het die VOC belang begin stel in die oprigting van 'n veilige plek vir skepe aan die Kaap, waar 'n fort gebou moes word om die skeepvaart te beskerm. Toe een van die opstellers van 'n verslag oor die Kaap, Matthijs Proot, nie belang gestel het in die nuwe pos van kommandeur nie, het Van Riebeeck aansoek gedoen.Van Riebeeck, sy vrou en babaseun Lambertus het met sy niggies Sebastiana en Elisabeth van Opdorp Amsterdam op 14 Desember 1651 verlaat. Die geselskap het met die Drommedaris, die Reyger en die Goede Hoop gereis en op Saterdag 6 April 1652 Tafelbaai binnegevaar.
Aan boord van die Drommedaris is daar ook reeds met die Resolusieboek 'n begin gemaak. Die Resolusies van 30 Desember 1651, 20 Januarie 1652, 29 Maart 1652 en 28 Maart 1657 is deur homself geskryf.
Fort
Die plek waar die fort gebou moes word, is reeds op 7 April 1652 uitgesoek. Die volgende dag het Van Riebeeck die werk georganiseer, op 9 April 1652 is die terrein afgebaken en opgemeet en op 10 April 1652 het die graafwerk begin. Tot 24 April het almal nog op die skepe oornag, maar daarna het hulle in houthuise op land geslaap. Op 12 Mei is die eerste Nagmaal gevier. Op 4 Junie 1652 het die gesin van die sieketrooster verlof gekry om hul intrek in die fort te neem. Hul kind, Bernert Willem Wijlant, was die eerste kind wat in die fort gebore is (op 6 Julie 1652).
Op 3 Augustus 1652 het die hele geselskap hul intrek in die fort geneem. Op 31 Desember 1653 kon Van Riebeeck aan die Here XVII skryf dat die Fort De Goede Hoop in volkome staat van verdediging was. Dié eerste fort aan die Kaap bestaan nie meer nie.
Al dié werk is sonder die hulp van inheemse inwoners of slawe gedoen. Die werk in die tuine is onder toesig van Van Riebeeck deur die hooftuinier Hendrik Boom gedoen, wat ná 1658 gehelp is deur die eerste ingevoerde slawe.
Werk
Van Riebeeck het skippers aangemoedig om saad, plante en bome uit alle dele van die wêreld te bring. Hy het wingerdstokke ingevoer uit Brasilië, St Helena, Batavia, Ambon, Japan, Spanje, Italië en ander dele van Europa en uit Mauritius en Madagaskar. Op Sondag 2 Februarie 1659 het hy in die Dagregister aangeteken dat die eerste wyn van Kaapse druiwestokke gepars is en dat hy dit van goeie smaak en geur gevind het.
Reeds van die eerste dag af het Van Riebeeck met die inheemse Khoi-bevolking in aanraking gekom en gaandeweg die name van hul stamme en opperhoofde leer ken. Een van hulle was Herry, die Goringhaikona of Strandloper, ook bekend as Autshumao, Hadah of King Harry, wat saam met die Engelse skipper John Hall na Bantam gegaan het en teruggekom het met 'n bietjie kennis van Engels. Hy kon spoedig ook gebroke Nederlands praat en sy niggie Eva is deur Van Riebeeck en sy vrou in die fort opgevoed. Sy het geleer om vlot Nederlands te praat. Saam met 'n paar ander Khoikhoi het hulle as tolke opgetree.
Om die Khoikhoi en die land beter te leer ken, het Van Riebeeck geselskappe na die binneland gestuur: in 1655 Jan Wintervogel na die noorde en Willem Muller na die ooste. In 1657 het Abraham Gabbema die Bergrivier bereik en in 1658 Jan van Herwaerden die Roodezantspas. In 1660 het Jan Danckaert die Olifantsrivier en Pieter Cruijthof die Namakwas bereik. Ook Pieter van Meerhoff en Pieter Everaert is na die noorde gestuur, maar gebrek aan water het hulle gedwing om terug te keer voordat hulle die Vigiti-Magna-rivier, waarna hulle gesoek het, kon bereik.
Van Riebeeck het ook die Kaapse kus verken, kaarte laat teken en verkenningstogte na Madagaskar en Tristan da Cunha laat maak. Aangesien 21 mense op die tog na Madagaskar verongeluk het, is Van Riebeeck se ywer in dié opsig nie deur die owerhede op prys gestel nie.
Van Riebeeck het herhaaldelik daarop aangedring dat slawe na die Kaap gestuur moes word, maar hulle het eers gekom nadat die eerste nege Vryburgers plase aan die oewers van die Liesbeek gekry het. As boer het Van Riebeeck hard gewerk. Hy het drie plase besit: Bosheuvel, wat hy van die besoekende kommissaris Cunaeus gekry het in ruil vir grond wat Rijckloff van Goens aan hom gegee het, De Uijtwijck, wat hy in 1659 gekoop het, en Sorgvliet, wat hy in 1660 gekoop het.
Tydens hul verblyf aan die Kaap is nog twee seuns en drie dogters gebore: Abraham (18 Oktober 1653), Maria ( 17 of 18 Junie 1657), Elisabeth (25 September 1659) en Joanna (13 Januarie 1662). Anthony is op 20 Februarie 1656 oorlede. Abraham en Lambertus is in 1660 na Nederland gestuur vir hul opvoeding.
Malakka
Jan en Maria het die Kaap op 7 Mei 1662 met die skip Mars verlaat, wat Batavia op 5 Julie 1662 bereik het. Aanvanklik was daar geen werk vir Van Riebeeck op Batavia nie, maar op 12 September 1662 het hy sitting in die Raad van Justisie gekry. Byna onmiddellik daarna het hy die aanstelling as kommandeur en president van Malakka gekry en het op 18 September 1662 met sy gesin daarheen vertrek. Op 6 November 1663 is 'n vierde dogter, Antonia, gebore.
Terug na Batavia
Hoewel Van Riebeeck daarin geslaag het om die handelsverlies in 'n wins om te skep, het die dood van sy eggenote hom laat besluit om Malakka te verlaat. Sy dogter Joanna is op 5 Desember1664 oorlede en langs haar moeder in die St Paulo-kerk begrawe. As gevolg van dié gesinsomstandighede het Van Riebeeck versoek om gerepatrieer te word, maar toe hy in Batavia hoor dat die pos van die sekretaris van die Raad van Indië vakant is, het hy aansoek gedoen en die aanstelling op 24 November 1665gekry.
Hy het op 10 Maart 1667 met Maria Scipio, die dogter van ds Isaac Scipio, getrou. Uit dié huwelik is een seun, Joan Van Riebeeck (24 Januarie 1670-1703) gebore.
Van Riebeeck het herhaaldelik 'n verhoging van rang versoek, maar dit is nie toegestaan nie. Hy is met groot eerbetoon in die sogenaamde Portugese Kerk in Batavia begrawe. Toe die kerk later afgebreek is, het die grafsteen in 'n stal beland. In 1897 is die brokstukke toevallig gevind. Dit is in die museum van die Genootschap voor Wetenschappen en Kunsten in Batavia bewaar en in 1913 aan die Suid-Afrikaanse Museum, Kaapstad, geskenk. Tans is dit ingemessel in een van die buitemure in die binneplaas van die Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum in Kaapstad, naas die grafsteen van Maria de la Queillerie, wat uit Malakka hierheen gebring is.
'n Standbeeld ter ere van Van Riebeeck is in 1899 deur Cecil John Rhodes aan die inwoners van Kaapstad geskenk. Dit is gemaak deur die Skotse beeldhouer John Tweed (1869-1933).




