Jacob Zuma
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Jacob Gedleyihlekisa Zuma is op 12 April 1942 gebore in Inkandla, KwaZulu-Natal. Hy is die leier van die ANC en is op 9 Mei 2009 ingehuldig as die nuwe President van Suid-Afrika.Inhoud |
Familie
Sy pa, Gginamazmi Zuma, het twee vroue gehad in die Zoeloe-tradisie. Jacob is die seun van die tweede vrou, Nokubhekisisa Bessie Zuma. Hy was drie jaar oud toe sy pa oorlede is en hy met sy ma die huis moes verlaat en trek na Maphumulo, waar sy ma as huishulp gewerk het en hy skool gemis het om beeste op te pas. Later, toe sy ma Durban toe verhuis, het hy begin werk in winkels en huise om sy ma te help[1].
Politieke loopbaan
As sestienjarige het hy hom by die African National Congress (ANC) aangesluit. In 1962 word hy lid van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto weSizwe (MK) en sluit ook aan by die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). In dieselfde jaar word hy naby Zeerust gearresteer en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis op Robbeneiland. Na sy vrylating verlaat hy die land in ballingskap en spandeer die volgende 12 jaar in Swaziland, waar hy Thabo Mbeki ontmoet.[2]
Hy is in Desember 1994 verkies tot die Nasionale Voorsitter van die ANC en in 1999 aangewys as Suid-Afrika se adjunk-president totdat hy in 2005 deur Mbeki uitgeskop is weens sy beweerde betrokkenheid by die Wapenskandaal. Dit was 'n waterskeiding tussen die twee leiers sowel as in die party. In Desember 2007 is hy deur partygenote verkies as President van die ANC by die 52ste Nasionale Konferensie in Polokwane.
Omstredenheid
Ironies dat sy tweede naam, Gedleyihlekisa, in Zoeloe beteken "hy wat saam met jou lag terwyl hy jou seermaak"[3]. As adjunk-president is hy betrek by die Wapenskandaal en het hy volgens 'n hofuitspraak 'n korrupte verhouding met sy finansiële raadgewer Shabir Shaik gehad. In April 2009 het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) korrupsieklagtes teen hom laat vaar. Nadat hy uit die parlement geskop is, is hy hof toe gesleep en van verkragting aangekla. Alhoewel hy vrygespreek is, het hy erken dat hy onbeskermde seks met 'n HIV-positiewe familielid gehad het. Hy het geglo dat die verspreiding van die virus verhoed is deur na die tyd te stort.




