Hugenote en ons taal

Bookmark and Share

Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.

Spring na: navigasie, soek

Inhoud

Ons Franse erfenis:

I. Van vreemdelinge, Franse en Vlaminge

Die uitdrukking “die Kaap is weer Hollands” is aan meeste van ons bekend. Dit beteken dat die orde herstel is. Maar dit het vir ’n groep vlugtelinge wat in 1688 en 1689 ter plaatse geland het dit iets anders beteken; of eerder “die Kaap is darem Hollands,” al is dit tog nie Holland nie. Ek verwys na die artikel “die Vlaamse Hugenote” deur Biebie van der Merwe wat al in 1994 geskryf is en wat geen professor in Geskiedenis in die skande sal steek nie. Biebie is al jarelank gemoeid is met genealogie en die Hugenote, en bekend vir haar ywer en opregte belangstelling in ou Kaapse geskiedenis. Nes etlike amateur-familiegeskiedenisnavorsers wat ek in die Kaapse Argiefbewaarplek leer ken het, het Biebie die eienskappe van ’n goeie navorser: entoesiasme en noukeurigheid, die dryfkrag wat nodig is om geen steen onaangeraak te laat totdat agter die kap van die byl gekom is nie. Laas week kry ek toe die Festchrift getiteld Rondom Roy: studies opgedra aan Roy H Pheiffer in die hande en daarin is verskeie fassinerende artikels, onder andere die een deur Biebie. Sy spreek hier ’n vraag aan wat deur verskeie ander navorsers gevra is: hoekom het Frans so vinnig uitgesterf as spreektaal aan die Kaap? Sy wys eerstens daarop dat die landsgrense in Europa destyds anders daar uitgesien het as vandag – ook is soms ander tale voorheen in dieselfde gebied gepraat as waarvan ons tans bewus mag wees. Dink maar aan die term “lingua franca” – dit beteken die spreektaal van ’n gebied waar mens dalk verskillende moedertale het, soos Engels in Suid-Afrika vandag. Of dit kon ’n soort Funagalore (soos in ons myne gepraat) wees – die oorspronklike Lingua Franca was skynbaar ’n mengsel van Spaans, Frans, Grieks en Arabies, met Italiaans as basis (!) - die doel was kommunikasie, nie kuns nie. En so was Frans eens die algemene spreektaal in Engeland! Vroeër was ’n (aangepaste) Latyn ook algemeen daar gepraat toe die Romeine Brittanje oorheers het.

Maar nou gee ek dalk sommige taalstryders op Stellenbosch valse hoop dat Afrikaans, soos Engels, kan ontwikkel in ’n wêreldtaal! My punt is dat “Franca” nooit na Frans verwys nie, maar na “Europees” – Arabiese handelaars het ook destyds na alles wat Europees was as “Frankies” verwys. En Biebie maak die stelling dat nie al die Hugenote noodwendig moedertaalsprekers van Frans was of selfs Frans kon praat nie. Dit hang af wat gepraat is in die streek waarvandaan hulle gekom het. Praat van ’n Babelse verwarring!

Meeste Afrikaanssprekendes het seker al gewonder oor hulle moontlike Franse bloed en as familiename soos Mouton en De Villiers opgediep word, of heimlik of hoogdrawend-astrant aanspraak gemaak op (self)s adellike bloed. Asof die Hugenote nogal adellikes was, en asof die adelstand iets was om oor spoeg te laat spat. Ga! Blou bloed inderdaad ... wat beteken dit in elk geval? Maar hier kom die ding: Biebie verduidelik dat van die 264 Hugenote van wie se herkoms bekend is, 90 uit die destydse Vlaandere afkomstig is – dus 34% van ons “Franse” was nie Franse nie. Van die Vlaminge was egter ook Franstalige Wale, wat dit onmoontlik maak om te bewys wie Frans of Vlaams gepraat het en nog minder kan mens se wie albei magtig was. Die ander bronne oor die Hugenote maak geen melding van die Vlaamse konneksie nie – en daar is al verskeie gepubliseer. Uit Biebie se hoek gesien was die Kaap weer, of steeds, Hollands vir baie Hugenote toe hulle hier aangeland het. En hoewel Kaapstad eens as Klein Parys bekend gestaan het (weens die uitspattige lewenstyl van ryk burgers), was dit meer Hollands as Frans en vir baie Hugenote glad nie so moeilik om hier aan te pas nie. Vir húlle was die Afrika-omgewing wel vreemd, maar nie soseer die taal- en kultuuromgewing nie. Let wel: ek sê nie die navorsers van ons Franse verwantskap was verkeerd nie; ek dink wel mens behoort niks summier te aanvaar nie.

II. Taalstryd van ’n ander kleur of Kaas van ’n ander geur

So etlike Franse Hugenote was dalk nie só Frans nie. En dat dit een van die redes kon wees waarom hulle binne een geslag verhollands het. Selfs my Engelssprekende vriend Kelvin Rogers – ek het my gemmerkat na hom vernoem omdat hulle albei gemmerkoppe is en ramkatte daarby, maar Afrikaners of Franse is hulle nié – sê my hy wonder al jare hieroor. Snaaks, meeste Afrikaanssprekendes; behalwe dalk geskiedkundiges, het dit altyd maklik aanvaar dat die Hugenote suiwer Frans was. Nou kan dit wees omdat ons eerder Frans as Nederlands wil wees? Miskien omdat ons redelik gebelg was deur die Kaaskoppe se koue skouer vóór 1994?

Daar is glo lank gekeer dat die volk nie moet weet dat HF Verwoerd eintlik in Nederland gebore is, al het hy hier grootgeword. O, die skande! En waarskynlik het dit ook te doen met die weersin wat talle Afrikaners het vir diegene wat hulle sedert volksplanting as onafhanklike groep misken het. Dit sluit natuurlike beide die Nederlanders en die Britte in. Ek het nogal ’n spesmaas dat dit alles bydraende faktore is. Ironies genoeg het die Kase deesdae meer Neo-Nazi’s tussen hulle as ons! Maar taal loop altyd hand aan hand met nasionalisme en so ook hier. So hoekom het die Franse, waarna chauvinisme nogal “vernoem” is, dan so gou hul taal hier verleer? Ons weet dat Simon van der Stel teen Frankryk geveg het in Europa voordat hy hierheen gekom het en dat hy hulle gewantrou het. Hy wou byvoorbeeld nie aan hulle versoek gehoor gee om ’n eie kerk hier te begin nie. Dus nie juis ’n frankofiel nie, ons ou Simon. Bowenal het dit almagtige VOC gebied dat die Hugenote die boeregemeenskap moes aanvul en so gou moontlik geassimileer moes word, nié verdeeldheid veroorsaak, soos aparte kerke en dies meer kon teweegbring nie. Ja, die beleid was beslis dat die Hugenote verhollands.

Ten minste het die VOC darem nie Skotse predikante ingevoer soos die Engelse later, om die Boere te verengels nie. Wat ook maar goed was, want dan het ons byvoorbeeld nie Afrikaanse MacDonalds gehad wat vir die Springbokke gespeel het nie – dáárdie plannetjie het lelik skeefgeloop. En so het ons altyd aanvaar: dit was bloot die verhollandsingsbeleid wat van die Hane Kase gemaak het. Reg? Maar, soos laas week gesê, Biebie van der Merwe het met haar navorsing tog ’n punt geopper: wat as al die Hugenote nie Franssprekend was nie?

Geskiedkundiges kan sekerlik met vrug by linguiste kers opsteek; dit kan dalk net ’n groter prentjie onthul. Mens dink byvoorbeeld aan dr Cyril Hromnik wat beweer dat daar aanduidings is dat sekere Khoi-stamme eeue gelede bande gehad het met Indiese goudsoekers hier in Suid-Afrika en daarom is sekere Indiese woorde toe in die plaaslike dialekte opgeneem. Die taal-opsie lyk dus die moeite werd om te ondersoek. En toe gaan Biebie en kyk waar kom die Hugenote vandaan, soos etlike navorsers voor haar, maar anders as meeste ander navorsers neem sy in ag dat die Europese landsgrense nie so lank stabiel gebly het soos tans nie en dat daar meer dialekte in gebruik was as nou. In die tyd van Karel die Grote het Vlaandere byvoorbeeld verwys na die landstreek wat vandag uit verskillende gebiede bestaan, waaronder “... Flandre in Frankryk; Oos-en Wes-Vlaandere in België, en die suidelike deel van Seeland in Nederland.”

Na Karel se dood is sy ryk onder prinse verdeel en so is die hele Vlaandere aanvanklik ingedeel by die gebied wat Frankryk sou word In hierdie Vlaandere het die mense hoofsaaklik Nederduitse en Nederlandse dialekte gepraat, maar die Boergondiërs het in die Nederlandse gebiede Frans as administratiewe taal bekendgestel. En so kan mens aangaan – dis moeilik om met sekerheid oor die taalgrense van die 1600’s te praat, aangesien dit gedurig verskuif het. Volgende week kyk ons dan na die mense wat vanaf 1688 hierheen gekom het, meestal via Nederland, en veral na seker families in besonder, soos die Moutons.

Die geskiedenis het talle fassinerende afdraaipaadjies, so, net terloops: my ouma was ’n afstammeling van Maria Mouton, eerste wit vrou wat aan die Kaap tereggestel is – medepligtig aan moord op haar man Frans jooste, ’n Duitser wat hier kom boer het. Maar dis ’n fassinerende storie op sy eie, onder andere vertel deur Barend Toerien, die digter in ’n boekie wat net hieroor handel. Toerien was ook ’n nasaat van Maria, dis waarvandaan sy belangstelling gekom het. En dan het die eerste Verster, Jacobus wat in 1753 hier aangekom het, ook met Hugenote vroue getrou; ’n Du Toit en ’n Theron – nie gelyktydig nie; vroue het destyds baiekeer in kraam gesterf. Higiëne was nie so goed soos vandag nie en die vroedvroue (“midwives”) het ook maar mee volgens bygelowe as werklike mediese kennis gewerk. Welgestelde, belese mans wat nie die gevaarlike lewens van soldate of matrose gelei het nie het waarskynlik gemiddeld langer geleef as vroue.

Die lewensverwagting van mense destyds was veel laer as nou, en veral baie kinders het nie volwassenheid bereik nie. Die sogenaamde “romantiese ou dae” was ’n veel gevaarliker tyd as vandag. Ryk mense se lewens was toe wel redelik gemaklik, maar nie eens ’n koning het siektes ontkom nie, juis weens die gebrekkige kennis oor bv. siektes, infeksies en die oorsake daarvan.

III .Om in vreemde tale te spreek – of nie

Volgens Biebie van der Merwe se navorsing lyk dit asof Vlaamse kultuurgoedere dus “ongesiens” deel kon geword het van ons nasie se erfenis – ook nie ’n verlies nie - uit die Weste, die Ooste en Afrika het ons samelewing veelvlakkig geword; dog uniek Suid-Afrikaans.

Biebie het die destydse Europese landsgrense, die tale en dialekte wat daar gepraat is en ook die patrone van naamgewing (kinders, plase) en familieverbintenisse nagevors. As gevallestudies het sy sekere families bestudeer – Du Preez/Des Prez, Mouton, Du Toit, De Klerk en De Savoije (spellingsvariante bestaan, want min mense kon destyds skryf en standaardisasie het nie bestaan nie). Kom ons neem die Mouton-familie as voorbeeld. Wat het Biebie oor die Mouton-stamvader geskryf in haar artikel?

Kortliks dít: Jacques Mouton arriveer in 1699 met sy vrou Marie en drie kinders. Twee dogters is in Middelburg, Seeland gebore en die derde blykbaar op pad hierheen. Hier aangeland, sterf Marie en in 1700 trou Jacques met Francina Bevernagie, van Nederbrakel in die Nederlandssprekende deel van België. Haar broers was Joost en Theunis, dus Vlaams; duidelik nie Frans nie. En Bevernagie was ook ’n ou Vlaamse familienaam.

Terug by Jacques: sy ander dogters (Marie se kinders) se name was Madelein, Marie (of Maria) en Marguerite, wat wel Frans kon gewees het, is sy kinders met Francina, se name was Abraham, Susanna, Jacob, Martha, Izaak en Johanna. Hierdie name was beslis nie Frans nie. Biebie merk ook dat net een van Jacques se tien kinders met ’n Franssprekende getroud was. Hiervan lei sy af dat hulle van Vlaamse afkoms kon wees en eerder met Nederlandssprekendes wou trou.

Dit sou die kommunikasieprobleem terstond oplos. Tog besef mens dat ander faktore ’n rol kon gespel het: sekuriteit byvoorbeeld (hoe welgesteld was die nuwe aankomelinge in teenstelling met die reeds gevestigde Nederlanders?) en beskikbaarheid (blykbaar het die baie Duitssprekendes in diens van die VOC met Khoi vroue getrou of saamgewoon omdat daar min wit vrouens was wat met hulle wou trou).

Laasgenoemde faktor kon ook dui op die taalkwessie – as Nederlandse en Franse vroue dan nie met Duitsers wou trou nie, kon Vlaamse vroue Nederlandse mans bo Franse verkies het. Interessant is juis dat Jacques se dogter Marie/Maria met ’n Duitser, “Skurwe” Frans Jooste getrou het. En die Duister is gedood in ’n geveg met Maria se slawe-minnaar, Titus van Bengale. Dinge het nie tussen Maria en Frans gevlot nie, maar mens kan nie aanneem dat taal verskille die rede was nie. Nié as sy iemand van die verre Ooste verkies het nie. Sy taal en kultuur sou immers vreemder vir haar wees as dié van ’n Duitser! Biebie meld dat Mouton se plaas Steenwerck gedoop is – nie ’n Franse naam nie, en hoe ook anders: hy is in die dorp Steenwerck gebore, geleë in Frans-Vlaandere. As hy wou kon hy sy plaas of sy kinders Franse of verfransde name gegee het. Tog erken Biebie dat dit alles omstandigheidsgetuienis is – dit kan nie bo alle twyfel bewys word nie.

So is baie name byvoorbeeld verhollands hier aan die Kaap; dink aan Krotoa (wat Eva geword het) se Sweedse man Peter Havgard wat Pieter van Meerhoff geword het. Om makliker in te pas van die anderstaliges se kant, of omdat die Nederlandse owerhede dit so verkies het - en van hulle kant die name verander het, byvoorbeeld op monsterrolle (sensusopnames), met opteken van hofsake en dies meer, wie weet? Ek het nagevors wat die name van Jacques Mouton se kinders by sy eerste vrou was, want Marie was sy tweede en Francina sy derde eggenote. Dit was Jacques, Antonie en Marie-Jeanne. En hulle ma was Catherine L’Hermite ... klink nogal Frans, reg?

Nietemin, Biebie maak wel ’n geldige punt wanneer sy aanvoer dat etlike Hugenote nie uitsluitlik Frans gepraat het nie en dus maklik na uitsluitlik Nederlands kon oorskakel. Of selfs in elk geval slegs Nederlands magtig was (of ’n Vlaamse dialek). En dit sou minstens bydra daartoe dat Frans binne een geslag ná die Hugenote se koms feitlik verdwyn het. Miskien ook maar goed – ons het immers genoeg tale om oor of mee te stry!

Hierdie gedeelte oor die Hugenote, met erkenning aan Biebie van der Merwe, het in die gemeenskapskoerant BOLANDER verskyn as ’n reeks van drie artikels (27 Mei, 10 Junie en 17 Junie 2009), saamgestel deur dr. Francois Verster, oud-Argivaris van die Wes-Kaapse Argiefbewaarplek in Kaapstad.

Persoonlike gereedskap
google soek
Laai dit gratis af: