Griekwas
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Die Griekwas is 'n Suid-Afrikaanse volkstam met 'n baie gemengde rassesamestelling. Adam Kok I, 'n Baster, het omstreeks 1750 van Piketberg na Kamiesberg verhuis en het hier afstammelinge van die witmense en die Khoikhoi uit die weste van die Kaapkolonie, en Khoikhoi van die Griekwa-stam, om hom versamel. In dié groep het die Khoikhoi-bloed oorheers. 'n Ander groep, in wie blanke bloed oorheersend was, het ook na die noorde verhuis en hul om Barend Barends geskaar.
Onderlinge geskille het tussen die Griekwas ontstaan en in 1819 het hulle in verskillende groepe verdeel, elkeen met sy eie kaptein. Daar was Andries Waterboer in Griekwastad, Griekwaland-Wes, Barends op Daniëlskuil en Adam Kok eers op Campbell, maar later op Philippolis. Laasgenoemde groep het in 1860 na Griekwaland-Oos verhuis.



