Desmond Tutu

Bookmark and Share

Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.

Spring na: navigasie, soek
Desmond Mphilo Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp gebore. In 1953 behaal hy 'n onderwysdiploma en in 1954 'n B.A.-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Hy kwalifiseer hom in die teologie, eers aan St Peter's College in Johannesburg en daarna aan King's College in Londen, waar hy sy meestersgraad voltooi.

Toe hy in 1967 na Suid-Afrika terugkeer, wy hy hom daaraan toe om swart teoloë op te lei. Van 1972 tot 1975 beklee hy 'n prominente posisie by die wêreldraad van Kerke en in 1976 word hy as biskop van Lesotho aangestel.

In 1977 keer hy na Suid-Afrika terug om 'n toespraak by Steve Biko se begrafnis te lewer. Hy besef in hierdie tyd dat die kerk 'n aktiewe rol sou moes speel om die apartheidsbewind teen te staan. Hy word in 1978 algemene sekretaris van die Wêreldraad van Kerke, 'n ligaam wat die Suid-Afrikaanse regering godsdienstig sowel as polities teengestaan het.

Tutu beywer hom wêreldwyd vir ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika en gebruik die publisiteit wat hy ontvang toe Columbia Universiteit 'n eregraad aan hom toeken in 1982 en hy die Nobelprys vir Vrede ontvang in 1984 om sy sanksiestryd te bevorder. Uiteindelik sou internasionale ekonomiese druk 'n bepalende faktor in die ondergang van die apartheidsregering wees.

Die Suid-Afrikaanse regering se teenreaksie was 'n demoniseringsveldtog. Tutu se paspoort is reeds in 1979 teruggetrek en vir meer as 'n dekade is hy deur regeringsgesindes as 'n anti-Chris en gevaarlike agitator uitgekryt. Die armes en verdruktes, daarenteen, het hom as 'n simbool van geregtigheid en bevryding gesien. Na 1994 beywer Desmond Tutu hom vir die opbou van die reënboognasie en word hy in 1995 voorsitter van die Waarheids-en Versoeningkommissie (WVK).

Tutu is in 1955 met Leah Nomalizo Shenxane getroud en het vier kinders en sewe kleinkinders. In 2006 het Desmond Tutu sy 75ste verjaardag gevier met die vrystelling van sy biografie, Rabble-Rouser for Peace. Die afgetrede emeritus-aartsbiskop is op 'n geleentheid wat deur die Desmond Tutu Diversity Trust gereël is vir sy vreedsame versoeningsrol in Suid-Afrika se geskiedenis geëer deur onder meer Nelson Mandela. Fondse wat op die geleentheid ingesamel is, het gegaan aan 'n projek om alles oor Tutu se lewe oor die volgende vyf jaar op 'n Internet-argief te plaas.

King's College in Londen, waar Tutu studeer het, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) werk saam om nagenoeg 200 000 dokumente, klankgrepe en foto's op die argief te plaas. Skole in Suid-Afrika sal gratis toegang daartoe verkry.

Afgesien van sy rol in die versoeningsproses wat hy ná apartheid as voorsitter van die Waarheid- en Versoeningskommissie gespeel het, word Tutu veral onthou vir sy byeenroep van die sogenaamde Kaapse optog van 13 September 1989, waaraan sowat 30 000 mense deelgeneem het om deur 'nie-gewelddadige direkte aksie' aan te dring op 'n einde aan geweldpleging. Die optog was 'n waterskeiding in die sin dat die Regering dié "onwettige byeenkoms" toegelaat het en nie soos gewoonlik met geweld beëindig het nie.

Tydens dié byeenkoms was dit Tutu wat in 'n toespraak gerig aan F.W. de Klerk die term "reënboognasie" vir die eerste keer gebruik het. Vier maande later, op 2 Februarie 1990, het De Klerk sy toespraak oor 'n ingrypende koersverandering in die politiek gehou.

Inhoud

Aanhalings

  • Vier weergawes....vier....bestaan oor die lewe van Christus. Watter een sou jy wou gehad het moes uitgegooi word?

Desmond Tutu -nadat die eerste rondte van voorleggings van politieke party aan die Waarheids-en-Versoeningskommissie(WVK) vier verskillende weergawes van die geskiedenis opgelewer het, 1997.

Verwysings

Persoonlike gereedskap
google soek
Laai dit gratis af: