David Kramer
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
David Kramer is 'n bekende Suid-Afrikaanse musikant, gebore op 27 Junie 1951 te Worcester, Wes-Kaap[1]. Alhoewel hy hoofsaaklik in Afrikaans sing, word hy Engelstalig groot as afstammeling van 'n Litause Jood en 'n Hollandse Calvinis. In die laat sewentigerjare betree hy die musiekbedryf, maar verwerf eers bekendheid in die vroeë jare tagtig en hy begin algemeen bekendstaan as "Almal se Pêl". Sy kenmerkende rooi velskoene, brylcreme-kapsel, kardoesbroek, dikwielfiets en blikkitaar het die loslit-aanslag van sy destydse musiek goed gekomplementeer. Die plat aksent waarmee hy sing is egter deur sommige as onverfynd gereken, maar dit is in 'n groot mate geneutraliseer in 'n reeks Volkswagen televisie-advertensies, soos die een hieronder.
Inhoud |
Loopbaan
Hy het aanvanklik 'n beurs gekry van die Departement van Waterwese om siviele ingeneurswese te studeer, maar kon homself nie met die idee versoen nie. In 1971, met 'n beurs van 'n tekstielmaatskappy op Worcester, begin hy sy studies by Leeds Universiteit, Engeland, en behaal in 1974 'n BA-graad in tekstielontwerp. Hierna werk hy as tekstielontwerper in Suid-Afrika totdat hy in 1997 vir 'n paar maande in die VSA woon met die idee om hom permanent daar te vestig.
Terug op eie bodem, en steeds in die tekstielbedryf, neem hy sy eerste album op by 'n onafhanklike platemaatskappy, Mountain Records in Kaapstad. Hy finansier 50% van die kostes. Die album is egter deur die SAUK verban as gevolg van sy "vulgêre" vermenging van Engels en Afrikaans asook die politieke ondertone. EMI, deur wie die album versprei is, het Kramer aangeraai om 'n enkelsnit op te neem wat radiospeeltyd kon kry[2]. Blokkies Joubert, wat handel oor 'n ou rugbyspeler, het nr.1-status bereik. en die weg gebaan vir ander treffers soos Royal Hotel. Hierna het hy vinnig 'n Afrikaanse musiek-ikoon geword.
In die negentigerjare maak Kramer naam in die teater, veral in vennootskap met Taliep Petersen, met musiekblyspele soos District Six: The Musical, Poison, Kat and the Kings en Fairyland. Ook as regisseur van verhoogstukke van die komediant Marc Lottering maak hy sy merk.
Inspirasie
Nadat syoupa vir hom 'n ukulele gegee het met sy vyfde verjaardag het hy sy ouers en hul vriende op die klein kitaartjie vermaak. Ek was baie beïnvloed deur Elvis Presley en die rock androll-styl van daardie jare. Ook Pat Boone en Cliff Richard en Little Richard, Chuck Berry en Fats Domino - die eerste plate wat my broer gekoop het was van laasgenoemde twee, en vir my was dit opwindende musiek vertel hy in 1991 in 'n onderhoud.
Reeds in die sewentigs, toe hy in die VSA woon, besef hy dat sy wortels in die Wes-Kaap is en dat dit was waaroor hy wou skryf. Sy werk het 'n sterk politieke inslag behou en in 1986 maak hy sy laaste statement met Baboondogs. Later reflekteer hy: "Ek voel ek het dinge gesê wat gesê moes word, maar nie gesê is nie, maar ek glo nie dit is 'n kunstenaar se vernaamste rol nie. Dit is baie belangrik om te vermaak. As daar nie vermaaklikheid is nie, moet jy 'n predikant of politikus word."[3]
Worcester, sy grootworddorp, en sy familiewortels bly 'n sterk tema in sy lirieke. Sy eerste treffer, Blokkies Joubert, handel oor 'n oud-Sap - soos sy familie was. Royal Hotel verwys na die hotel op dié dorp. Die Klonges van Chavonnes verwys na 'n kleurlingwoonbuurt in die omgewing, Chavonnes. 'n Man Stap, wat in 1999 die lig sien, handel oor 'n emigrant wat na jare terugkeer na sy geboortedorpie, maar soos 'n vreemdeling daar voel. Die lirieke verwys na Hoogstraat in Worcester. Hanne is volgens hom geïnspireer deur 'n afbeelding van hande in gebed op sy oupa se yskas[4].
Albums[5]
Bakgat (1980)
Die Verhaal van Blokkies Joubert (1981)
Delicious Monster (1982)
Hanepootpad (1983)
Jis Jis Jis (1984)
Kwaai (1984)
Van der Merwe P.I. (1985)
Laat vir die Dans (1986)
Baboondogs (1986)
Eina (1989)
Fairyland (1991)
Klassic Kramer (1996)
Alles van die Beste (1996)
Kat and the Kings (1998)
Kliphard (1999)
In the Days of District Six (2000)
Karoo Kitaar Blues (2001)
Huistoe (2004)
Ghoema (2006)
Hemel & Aarde (2007)
Verwysings
Voetnotas
- ↑ Who's Who of Southern Africa: http://www.whoswhosa.co.za/Pages/profilefull.aspx?IndID=5391
- ↑ What's On Stage, 12 January 2004
- ↑ Beeld, 31 Augustus 1991
- ↑ Verhoogoptrede, Worcester, Augustus 1999.
- ↑ http://www.davidkramer.co.za


