D.F. Malan
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Inhoud |
Dr. Daniël Francois Malan
DF Malan was 'n SA kerk- en staatsman wat op 22 Mei 1874 op die plaas Allesverloren in die distrik Riebeek-Wes in die Kaapprovinsie gebore is. Hy is op 7 Februarie 1959 op Stellenbosch oorlede. Ná sy skooljare op Riebeek-Wes en studie aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy opgelei is as predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), het Malan in Oktober 1900 na die Rijksuniversiteit van Utrecht, Nederland, gegaan vir verdere studie in die teologie.
Terug in Suid-Afrika was Malan predikant. In dié tyd het sy lang openbare loopbaan as taalstryder vir Afrikaans, kerkman en nasionale figuur begin. Die jaar 1914 het Malan in die middelpunt van die Afrikanerstryd gestel: Die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie op Suid-Afrikaanse bodem het diep klowe in die Afrikanergeledere geslaan en die kerklike eenheid ernstig bedreig. Malan het die bevordering van eenheid onder sy mense as sy lewenstaak onderneem.
Politiek betree
Toe De Burger (later Die Burger) in 1915 gestig is, het Malan die redakteurskap van die koerant aanvaar. In dieselfde jaar is die Kaaplandse Nasionale Party gestig en is Malan tot leier gekies. In dié twee hoedanighede het hy sterk pleidooie vir die eenheid van die Afrikanervolk gerig en sterk standpunte ingeneem teen die oorlogsbeleid en die konsiliasiepolitiek van die Botha-regering.
In 1919 het hy aktief die politieke terrein betree toe hy Volksraadslid vir Calvinia geword het. Met die samestelling van die Hertzog-regering in 1924 het Malan minister van binnelandse sake, volksgesondheid en onderwys geword en het hy uitgetree as redakteur van Die Burger. In 1925 het hy die wet deur die Parlement gevoer waarvolgens Afrikaans (naas Hollands) tesame met Engels een van die ampstale van die land geword het. Hy het midde-in die stryd om die skepping van 'n nuwe vlag vir Suid-Afrika gestaan en het hom bewys as 'n politieke strateeg wat nogtans nie sy beginsels prysgegee het nie.
Opposisieleier
In die vroeë dertigerjare is Suid-Afrika getref deur die wêrelddepressie en die goudstandaardkrisis, wat tot aktiewe planne gelei het om die Nasionale Party (NP) van J.B.M. Hertzog en die Suid-Afrikaanse Party van Smuts te verenig. Malan het verkies om nie in 'n nuwe koalisiekabinet te dien nie. Toe die NP en die SAP in 1934 saamsmelt as die Verenigde Party, het Malan na vore getree as leier van die minderheid wat besluit het om die NP voort te sit. Met net 18 ondersteuners in die Volksraad het hy leier van die opposisie geword.
Hy het ook duideliker formulering gegee aan die segregasiebeleid van die NP op maatskaplike, ekonomiese en politieke gebied. In 1938 het hy 'n verkiesingsmanifes opgestel waarvan 'n belangrike deel die NP se planne vir die hantering van die kleurvraagstuk vervat was. In dieselfde jaar het hy 'n landwye petisie georganiseer vir die uitvoering van wat toe as Apartheid bekend geword het. Ook in dieselfde jaar het Malan 'n apartheidsmosie by die Volksraad ingedien.
By die verkiesing van 1938 (toe Malan LV vir Piketberg geword het) het die NP tot 27 lede in die Volksraad gevorder. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog teen die einde van 1939 het Hertzog en Malan 'n nuwe party, naamlik die Herenigde Nasionale Party of Volksparty, gestig. Hy het dit gedoen ter wille van sy ideaal van eenheid van die Afrikaners. Skaars 'n jaar later het Hertzog die party verlaat en het Malan die leierskap oorgeneem. Hy was weer eens die leier van die opposisie.
Premierskap
By die volksraadsverkiesing van 1943 het Malan se party tot 43 lede - almal lede van die HNP of Volksparty - gevorder. Ná nog vyf jaar in die Opposisie vir Malan, het die volksraadsverkiesing van 1948 aangebreek. Malan, wat die partysamewerking van NC Havenga se Afrikanerparty verkry het, het verrassend genoeg 'n meerderheid - hoewel klein - in die Volksraad behaal. Hy het eerste minister geword in die plek van veldmaarskalk Jan Smuts.
Dít het Malan die geleentheid gegee om verskeie van sy ideale wetlik toe te pas. Onder sy leiding is 'n wet aangeneem wat Indiërverteenwoordiging in die Parlement afgeskaf het nog voordat dit volgens 'n wet van Smuts in werking gestel kon word. Nog 'n wet is deurgevoer vir die instelling van 'n eie Suid-Afrikaanse burgerskap, 'n ander om eie woon- en sakegebiede vir die onderskeie bevolkingsgroepe in te stel.
In 1949 het Malan die Statebondkonferensie in Londen bygewoon. Terug in Suid-Afrika het Malan verslag gedoen aan die Parlement oor die Statebondskonferensie en verklaar dat hy geen beswaar daarteen sou hê dat Suid-Afrika as 'n republiek ook lid van die Statebond bly nie. In 1953 is die NP se program van beginsels sodanig gewysig dat republiekwording en lidmaatskap van die Statebond twee afsonderlike vraagstukke was "wat nie op dieselfde tyd beantwoord hoef te word nie".
Politieke eenheid
Malan se klein parlementêre meerderheid het geleidelik gegroei. Hy kon nou ernstiger te werk gaan met sy groot plan om die Afrikaners in een politieke verband saam te bring en om 'n belangrike opdrag van die kiesers uit te voer, naamlik die afskaffing van Kleurlingverteenwoordiging in die Parlement ingevolge die beleid van afsonderlike ontwikkeling (later genoem parallelle ontwikkeling ten opsigte van Kleurlinge).
Malan het die samewerkingsooreenkoms tussen hom en Havenga uitgebou tot volkome eenwording van die partye in 1951. In dié verenigde party is die oorspronklike naam Nasionale Party herstel. Baie aanhangers van die vroeër strydende groepe het deur middel van die Afrikanerparty weer teruggekeer na die NP.
Uittrede
Ná 'n volksraadsverkiesing in 1953 en provinsiale raadsverkiesings in 1954 het Malan se NP steeds sterker gestaan. Malan, nou 80 jaar oud, het besluit om uit te tree. Hy het op 30 November 1954 as eerste minister, hoofleier van die NP en LV uitgetree. In verband met sy opvolger het hy 'n openbare beroep op die NP-koukus gedoen om Havenga te kies vanweë laasgenoemde se bydrae tot Afrikaner-eenheid wat tot sulke groot mate in 1951 volbring is. Die koukus het JG Strijdom gekies.
Malan het hom met sy vrou, Maria, op Stellenbosch gevestig, waar hy sy laaste lewensjare gewy het aan die skryf van 'n boek oor sy herinneringe: Afrikaner-volkseenheid: my ervaringe op die pad daarheen (1959).
Aanhalings
- Die slagveld is verskuiwe. U Bloedrivier lê in die stad...Die Afrikanerdom (is) weer op trek, op sy nuwe Groot Trek...sy nuwe Groter Trek. Dis nie soos 'n honderd jaar gelede 'n trek weg van die middelpunte van die beskawing af nie, maar 'n trek terug - terug van die platteland na die stad.
DF Malan -By Bloedrivier, tydens 16 Desember 1938.
- Afrikaner, Quo Vadis?
DF Malan -- tydens die inwydingstoespraak van die Voortrekkermonument, 16 Desember 1949.



