Chris Hani
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Martin Thembisile Hani, ook bekend as Tshonyane, is op 28 Junie 1942 in Sabalele naby Cofimvaba in die Transkei gebore. Aanvanklik wou hy 'n priester in die Rooms-Katolieke kerk word. In 1963, op 21-jarige ouderdom, het hy hom egter by Umkhonto we Sizwe (MK) aangesluit eerder as om oorsee te gaan studeer. Hy het later sy jonger broer, Chris, se naam aangeneem in 'n poging om 'n paspoort te bekom om Suid-Afrika te verlaat en het dié naam uiteindelik behou, hoewel hy 'n tyd lank as MK-kader die nom de guerre Chris Nkosana aangeneem het.
Hy het opgang gemaak weens sy beginselvastheid, wat soms daartoe gelei het dat hy die ANC-leierskap skerp gekritiseer het. 'n Voorbeeld hiervan was in 1966, toe hy MK-kaders in Angola gehelp het om 'n memorandum van besware teen hul leiers op te stel. Toe muitende MK-kaders van die Viana-opleidingskamp in 1984 egter die ANC-hoofkwartier in Luanda omring en die bedanking van sekere ANC-leiers geëis het, was dit hy wat hulle oortuig het om die weg van onderhandelinge te volg.
Hani was betrokke by die Wankie-veldtog om 'n roete deur Zimbabwe te vestig waarlangs MK-kaders Suid-Afrika sou kon binnedring. Hy was ook verantwoordelik vir die vestiging van ondergrondse operasies in Lesotho en Mosambiek.
As MK-bevelvoerder het hy verskeie pogings tot sluipmoord oorleef en as volksheld onder die swart gemeenskap na Suid-Afrika teruggekeer. Met die eerste ANC-kongres in 1991 het Hani die meeste stemme vir 'n posisie op die ANC se nasionale uitvoerende komitee ingepalm. Nadat die ANC egter besluit het om die gewapende stryd op te skort, het hy die ANC verlaat om hom as sekretaris-generaal by die SAKP aan te sluit.
Hani is op 10 April 1993 deur 'n Poolse immigrant, Janusz Walus, by sy huis in Boksburg doodgeskiet. Sowel Walus en die persoon wat die sluipmoordwapen aan hom verskaf het, die regsgesinde Clive Derby-Lewis, se aansoeke om amnestie is deur die Waarheid- en Versoeningskommissie geweier en hulle dien tans lewenslange tronkstraf uit.
Hani se vrou, Limpho, het van 1994 tot 1999 in die Parlement gedien. Daar is ook twee oorlewende dogters uit die huwelik.



