Bheki Cele
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Bheki Cele, KwaZulu-Natalse LUR vir gemeenskapsveiligheid en -skakeling, aanvaar op 1 Augustus 2009 die pos van Nasionale Polisiekommissaris van Suid-Afrika. Hy neem oor by komm. Jackie Selebi, wat reeds anderhalf jaar lank met spesiale verlof is hangende 'n strafsaak teen hom. Selebi se kontrak verstryk op 31 Julie 2009.Cele(57) is bekend as flambojant met 'n besonderse kleresmaak en was al dikwels omstrede oor sy openbare uitlatings. Hy meen onder meer dat polisielede nie moet skroom om te skiet as hul lewe bedreig word nie.
Cele het in verskeie belangrike openbare poste in KwaZulu-Natal gedien en het 'n groot rol gespeel om die taxikonflik in die provinsie by te lê. Hy het ook sukses behaal met teenmisdaad- en padveiligheidsveldtogte in die provinsie.
Cele is in 2004 aangewys om die nuwe ANC-premier op te volg as Kwazulu-Natalse LUR vir vervoer, terwyl hy terselfdertyd gemeenskapsveiligheid en -skakeling moes hanteer.
Met sy pa se dood, 'n indoena van die KwaZulu-Natalse suidkus en spoorwegwerker, het die 18-jarige Cele net tot st. 8 op skool gevorder. Hy wou verder studeer, maar dit was onmoontlik onder die omstandighede.
Hy het as laboratoriumtegnikus werk gekry en in hospitale in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap gewerk totdat hy later 'n onderwysdiploma verwerf en buite Durban gaan skoolhou het. Hy het in die jare sewentig van die ANC bewus geword en in die jare tagtig gehelp om die ANC-gesinde strukture onder die vaandel van die United Democratic Front (UDF) in Durban te stig.
Hy is verskeie kere sonder verhoor aangehou voordat hy in 1984 met die hulp van Pres. Jacob Zuma se ondergrondse strukture die land verlaat en onder meer militêre opleiding in Angola ondergaan het. Hy is in hegtenis geneem toe hy in 1987 na Suid-Afrika teruggekeer het en tronkstraf op Robbeneiland opgelê. Ná sy vrylating in 1990 het Cele die ANC se veiligheids- en vredesinisiatiewe gekoördineer.
In 1994 is hy tot die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in KwaZulu-Natal sowel as die provinsiale wetgewer verkies, waar hy voorsitter van die Portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit geword het. Sedertdien is hy ook tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies.
Hy was die afgelope agt jaar die voorsitter van die EThekwini-streek van die ANC, wat voorbrand gemaak het dat pres. Zuma einde 2007 by Polokwane die partyleier kon word.
Aanhalings
As misdadigers na hul wapens gryp, sal hulle nie skroom om enigiemand dood te skiet wat in hul pad is nie... Misdadigers het oorlog teen die polisie verklaar en die polisie moet hulle agter tralies sit of na die naaste begraafplaas stuur.
Bheki Cele nadat die polisie agt gewapende rowers platgeskiet het in 'n skietgeveg in Durban, 30 Januarie 2009.



