Bantoe-onderwys
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Die Wet op Bantoe-onderwys van 1953 het swartmense verhoed om blanke skole by te woon. Daarvolgens is Bantoe-onderwys van die beheer van die provinsiale administrasies weggeneem en by die werksaamhede van die Departement van Naturellesake ingeskakel.
Die wet had sy oorsprong in die aanbevelings van die Eiselen-kommissie. Dr. Werner Eiselen, eers akademikus in "Bantologie" by die Universiteit van Stellenbosch (US) later Sekretaris vir Naturellesake, het in 1949 opdrag gekry om onderskoek na swart onderwys in te stel. Tot op daardie stadium het kerke en sendelinge vir 90% van swart onderwys gesorg en ongeletterdheid was algemeen[1].
Eerste Minister HF Verwoerd, wat die wet deurgevoer het, het die volgende gesê:
"Volgens my departement se beleid moet Bantoe-onderwys met beide voete in die reservate staan gewortel in die gees en menswees van die Bantoe-samelewing. Daar is nie plek vir die Bantoe in die Europese samelewing bokant die vlak van sekere vorms van arbeid nie. Wat is die nut daarvan om vir die Bantoekind wiskunde te leer as dit nie in die praktyk gebruik kan word nie? Dit is heeltemal absurd. Onderwys moet opleiding verskaf in ooreenstemming met hul geleenthede in die lewe, ooreenkomstig die sfeer waarin hulle lewe."
Weerstand het byna onmiddellik ná die goedkeuring van die Bantoe-onderwyswet van 1953 begin. Swart onderwysers en studente het tussen 1954 en 1955 geprotesteer teen Bantoe-onderwys.
Met die samestelling van sy kabinet in 1958 het Verwoerd die naam van die Departement van Naturellesake verander en dit verdeel in die Departement van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling en die Departement van Bantoe-onderwys. MDC de Wet Nel is aangestel in laasgenoemde portefeulje.
Onrus het toegeneem totdat dit in die Soweto-opstand van 1976 gekulmineer het. Dit was in reaksie op 'n besluit van die destydse Minister van Bantoe-onderwys en -ontwikkeling, MC Botha. Hierdie voorskrif het bepaal dat Afrikaans as 'n verpligte medium van onderrig van graad sewe tot twaalf in swart skole gebruik moes word. As 'n nadraai van die Soweto-opstande het die Regering die bepaling dat Afrikaans 'n onderrigtaal sou wees, teruggetrek, die Departement van Bantoe-onderwys herdoop tot die Departement van Onderwys en Opleiding, meer fondse aan swart onderwys beskikbaar gestel en skooltoestande ondersoek.
Bronne
Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika
- Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika: "Apartheidsonderwys"
- Nuwe Geskiedenis van Suid Afrika: "A Note on Bantu Education:1953 to 1970"




