Apartheid
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Gedurende die voorloop van die verkiesing in 1948 het die Herenigde Nasionale Party (HNP) 'n veldtog geloods, gelei deur dr. DF Malan, om apartheid te implementeer indien hulle die verkiesing sou wen.
Die HNP het die verkiesing naelskraap gewen teen Jan Smuts se Verenigde Party en het daarna 'n koalisie gevorm met die Afrikanerparty en so het die Nasionale Party (NP) ontstaan.Inhoud |
Apartheidswetgewing
Die staat het wetgewing ingestel wat grotendeels daaroor gegaan het om op 'n groot skaal verskillende rasse van mekaar te skei. Dit het hulle gedoen deur mense te dwing om in verskillende gebiede te woon, ingedeel volgens ras. Daar is egter ook ander apartheidswette geïmplimenteer:
Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950
Hiervolgens moes alle ras geklassifiseer word en identiteitsdokumente is uitgereik aan mense bo 18 op grond van ras. Amptelike rade en spanne is gevestig om te bepaal wat 'n persoon se ras is. Dit het soms beteken dat, in dieselfde familie, mense in verskillende rasgroepe ingedeel sou word.
Wet op Groepsgebied van 1950
Tot en met voor die apartheidswetgewing geïmplimenteer is, het mense van verskillende rasse in meeste nedersettings langs mekaar gebly. Hierdie wetgewing sou bepaal waar elke persoon bly, volgens rasseklassifikasie. Elke ras het sy eie area gekry. Latere jare het hierdie wetgewing ook gedien as 'n basis vir gedwonge verskuiwing van mense volgens hulle ras. Verdere wetgewing in 1951 het die staat toegelaat om swart informele nedersettings af te breek.Verbod op Gemengde Huwelike
In 1949 kom daar nuwe wetgewing wat 'n huwelik tussen mense van verskillende rasse verbied. Die Ontugwet wat in 1950 in werking tree verbied ook verder enige seksuele verhoudings tussen mense van verskillende rasse en word dit gesien as 'n kriminele oortreding waarvoor jy strafregtelik vervolg kon word.




