![]() AansigteAnsela van Bengale - baas van baie plaseDie geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.Menige bekende Afrikaanse families het 'n slawe verbintenis in hul geskiedenis, hetsy by wyse van 'n manlike- of vroulike slaaf. Een so 'n slavin wat my verbeelding aangryp, is ongetwyfeld Ansela van Bengale. Afgesien van haar herkoms en omstandighede waarbinne sy grootword as slavin hier aan die Kaap, styg sy uit bo haar omstandighede en ontpop in een van die mees suksesvolle sakevroue aan die Kaap gedurende die jare 1667-1720.
Ingevoerde slaafAnsela (ook genoem Angela/Ansiela/Engela) van Bengale was ’n ingevoerde slaaf uit Bengale (teenswoordige noord-oos Indië/Bangladesh). Ons weet nie wanneer sy hier aangekom het nie, maar ons weet sy is in November 1655 deur goewerneur Jan van Riebeeck van Pieter Kemp gekoop om in eersgenoemde se huishouding te werk. Pieter Kemp was die bevelvoerder van die skip Amersfoort. Voor Van Riebeeck se vertrek uit die Kaap in 1662, verkoop hy vir Ansela aan Abraham Gabema vir ’n onbekende bedrag. In 1666 word Ansela vrygestel as slavin, maar sy word nie aan haar eie genade oorgelaat nie. Sy word geplaas aan die huis van ’n vryburger, Thomas Christoffel Muller vir ’n tydperk van ses maande waartydens sy ongespesifiseerde opleiding ontvang. Daarna sou sy vry wees om nog steeds vir hom te werk of vir ’n maandelikse salaris soos ooreengekom tussen hulle.
Bekende kindersHaar drie kinders, (almal verwek by witmans), waaronder Anna De Koning, word saam met hul ma vrygestel as slawe. Anna De Koning trou later met Kaptein Oloff Bergh. Anna word beskryf as ’n pragtige en elegante Oosterse vrou. Oloff , ’n onaansienlike man volgens vroeëre portrette van hom, word ook beskryf word as “’n boef en koning van die diewe”. Hy is ’n vermoënde man met kontakte in hoë kringe, onder andere Goewerneur Simon Van Der Stel.
Grondeienaar en huisvrouGedurende 1667 ontvang Ansela ’n huiserf in Tafel vallei (teenswoordig op die hoek van Kasteel en St Georges straat) en word sy ook die buurvrou van Wouter Cornelis Mostert. Op daardie stadium is dit slegs die 41ste grond uitgawe in 8 jaar en die tweede vrou wat grond ontvang. Sy huur ’n slaaf vir 5 gulden per maand en omskep die wildernis van ’n erf in lieflike tuin. Selfs die Politieke Raad maak melding daarvan in hul geskrifte. Ansela word in 1668 gedoop. ’n Paar maande daarna laat sy ook ’n seun, Pieter doop. Dieselfde jaar trou sy met Arnoldus Willem Basson. Gedurende 1670 en 1695 doop die paartjie sewe kinders. So word sy dan die stammoeder van die Basson familie van Suid-Afrika. Hulle eerste dogter word in 1677 gedoop en Oloff Bergh is getuie by hierdie doop.
Die plaas Honswyk/HondswykSy bekom op 7 September 1702 twee morg grond in Tafelvallei. Sy verkry vêrder die plaas Hondswyk ná 1706. Met haar afsterwe in 1720 bestaan haar boedel uit ’n allemintige 14808 gulden! Die plaas Honswyk is in 1692 aan Frans Hendrikse toegeken. Oordrag geskied in 1695, maar enkele dae daarna koop Pieter Hubner die plaas en bewerk en bewoon dit tot 1698. Johan Harting koop dit en boer daarop vir sewe jaar tot 1705. Daarna het Zacharyda Visser dit besit tot 1706. Hoewel die baie bekende Ons Drakensteinse Erfgrond aandui dat Daniël Marais die plaas in 1720 van Visser se eggenote gekoop het, dui die weesheer se dokumente onteenseglik daarop dat hy dit uit Ansela se boedel gekoop het vir 5000 gulden op 14 September 1720. (verwysing: MOOC 9/1/87 en 88) Vendusie rol word hierby aangeheg.
Verwysings
|