Anglo-Boereoorlog
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Die Anglo-Boereoorlog, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, het tussen 1899 en 1902 gewoed toe twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek of ZAR (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, met die Britse Ryk gebots het. Uiteindelik het vrywilligers uit Europa, VSA en Rusland steun kom bied aan Suid-Afrika. 'n Baie goeie opsomming van die konteks van die oorlog verskyn hier in Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika.
Eerste Offensief
Die Eerste Offensief vind plaas op 9 Oktober 1899, toe die ZAR 'n ultimatim aan die Britse Ryk rig, wat van die hand gewys word. Die eerste skote klap op 12 Oktober toe die Boere onder genl. Koos de la Rey 'n Britse pantsertrein by Kraaipan buit. Die Boere wou Britse troepe op vier fronte langs hul grense isoleer en stellings binne kolonies opneem om Britse opmars te stuit.
Kort hierna val die Boere Natal binne onder leiding van kmd-genl. Piet Joubert. Twee Britse oorwinnings volg. Eers by Talana (20 Oktober), waar genl. Lucas Maree hom vasloop teen genl-maj. Pen Simons van die Dundee Garnisoen. Simons is noodlottig gewond. Die volgende dag bereik 800 Boere Elandslaagte Stasie. Hier is die bevelvoerder genl. Kok met spiese en lanse gesteek, van sy klere geroof en agtergelaat in gietende reen. Die Britte het na bewering gekeer dat die ambulansdiens hom bereik.[1]
Die Boere behaal belangrike oorwinnings by Modderspruit en Nicholsonsnek en dwing genl. Sir George White om in Ladysmith skuiling te soek. Mafikeng, Kimberley en Ladysmith word deur Boere beleër: Mafikeng tussen 13 Oktober 1899 en 17 Mei 1900 onder leiding van Piet Cronje; Kimberley tussen 14 Oktober 1899 en 15 Februarie 1900 onder leiding van genl. CJ Wessels; Ladysmith van 2 November 1899 tot einde Februarie 1900. 'n Gepantserde trein, op 15 November 1899 deur Britte gestuur van Estcort na Colenso om die omgewing te bespied, is op die terugtog by Chieveley deur Boere ontspoor. Die jong oorlogkorrespondent, Winston Churchill, is hier gevange geneem. Dit was die eerste media-oorlog van die 20ste eeu, ondersteun deur foto's en die nuut-ontwikkelde rolprent.
Op 31 Oktober 1899 loods genl. Buller, wat Kimberley en Ladysmith so gou moontlik wou ontset, die eerste Britse offensief. Lord Methuen moes met die westerlike spoorlyn opruk na Kimberley tussen 23 November en 28 November. Hy was suksesvol by Bellmont, Graspan en Modderrivier. Buller sou self Ladysmith ontset. Maj-genl. Andrew Gilbert Waghope se Highland Brigade het in hul opmars na Kimberley in die vroegoggend van 11 Desember 1899 in Boere by Magersfontein vasgeloop. Danksy die krygsvernuf van genl. Koos de la Rey het die Boere vanuit versteekte loopgrawe geveg waarin burgers kon regop staan. Die vyand kon hulle nie maklik raaksien nie. Eers teen skemer was die geveg oor: 255 Boere het gesneuwel terwyl Times History die Britse dodetal as 971 man aangee. Die grootste veldslag van die oorlog vind plaas by Spioenkop op 24 Januarie 1900. Die Britte se poging om Ladysmith te ontset lei tot hul grootste nederlaag met 2,500-2,700 ongevalle binne nege dae. Die Boereverlies is minder as 200 man en die Britte se loopgrawe dien as massagraf na afloop van die veldslag.
Tweede Offensief
Die Tweede Offensief begin in Februarie 1900 met 'n Britse leermag groter as die totale Boerebevolking van Transvaal. Die tweede opmars, bekend as "Stoomroller", ruk na Bloemfontein en Pretoria op met die spoorlyn. Paardeberg word verslaan. Die Britse offensief slaag: Bloemfontein val op 13 Maart 1900 en Pretoria op 5 Junie 1900. Met die val van Pretoria, die hoofstad, het Robertson gewag dat die Boere sou kom oorgee. Hy laat weet die Britse regering dit is 'n kwessie van dae voor die Boere oorgee. Na weke besef hy dit gaan nie gebeur nie. Instede word Kroonstad 'n tydelike hoofstad en die oorlog duur voort. Die Boere begin met 'n guerilla fase, 'n nuwe oorlogtaktiek gekenmerk deur tref-en-trap aanvalle teen Britse kolomme, vernietiging van infrastruktuur soos Britse spoorlyne, brue, telefoonlyne ens. Die Britte het nie ervaring hiervan gehad nie en moes vinnig leer.
Verskroeie Aarde Beleid
Op 5 Junie 1900 beset Roberts Pretoria. Op 7 Junie is Christiaan de Wet suksesvol by die Slag van Roodewal. Hy slaan toe en buit Britse voorrade. Roberts word afgesny van die buitewêreld. Roberts besluit om die Boere se weerstand te breek en vaardig op 16 Junie 1900 'n omstrede proklamasie uit waarvolgens boere se plase afgebrand moet word. 'n Voorbeeld word gemaak met die plaas van genl. de Wet, Heilbron.
Kronologie van gebeure
Oktober 1899
- Pres. Paul Kruger stuur ultimatum namens die Republiek aan Britse regering om hulle te waarsku oor hul inmenging
- Ultimatum verval en oorlog breek uit
- Gepantserde trein word deur Boere onderskep by Kraaipan
- Mafikeng word beleër
- Kimberley word beleër
- Gepantserde trein word deur Boere onderskep by Elandslaagte
- Slag van Talana in Natal op 20 Oktober 1899, die eerste slag waarin die Britte kakie dra
- Slag van Elandslaagte
- Vryburg beset deur die Boere
- Slag van Rietfontein
- Boeremagte wen die slag by Nicholsonsnek teen Carleton, asook by Modderspruit naby Ladysmith op 30 Oktober [1899]]
- Generaal Sir Redvers Buller arriveer in Kaapstad
November 1899
- Beleëring van Ladysmith begin
- Aliwal-Noord beset deur die Boere, onder leiding van hoofkmdt. J.H. Olivier, op 13 November 1899
- Colesberg beset deur hoofkmdt. E.R. Grobler en genl. Hendrik J. Schoemanen op 14 November 1899
- Burgersdorp beset deur 'n Vrystaatse kommando
- Boere vernietig gepantserde trein tussen Frere en Chieveley, en neem Winston Churchill gevange
- Slag van Willow Grange
- Slag van Belmont
- Slag van Graspan
- Britse magte en Bakgatla vegters val Derdepoort aan
- Slag van Modderrivier, 28 November 1899
- Boere vernietig spoorwegbrug by Colenso
Desember 1899
Januarie 1900
Februarie 1900
- Slag van Vaalkrans
- Slag van Koedoesberg
- Kimberley word ontset
- Britse magte val Boere oos van Colenso aan
- Slag van Paardeberg: Genl. Piet Cronjé se laager beleër; hy gee oor
- Ladysmith word ontset
Maart 1900
- Boere onttrek van Colesberg
- Slag van Poplar Grove
- Slag van Driefontein
- Britse magte beset Bloemfontein
- Boeremagte beset Ladybrand
- Piet Joubert sterf
- Slag van Sannaspos
April 1900
- De Wet verslaan Britse magte by Mostertshoek
- Britte by Houwater teruggedryf
- De Wet laat vaar besetting van Jammerbergsdrif
- Slag van Tobaberg
Mei 1900
- Britse magte verdryf Boere van Brandfort
- Britte beset Winburg
- Britte beset Kroonstad
- Boere se aanval op Mafeking misluk en Mafeking word ontset
- Skermutseling by Scheepersnek
- Anneksasie van Oranje-Vrystaat geproklameer
- Slag van Klipriviersberg
- Pres. Paul Kruger verlaat Pretoria
- Slag van Biddulphsberg
- Britse magte by Lindley oorweldig
- Britse magte beset Johannesburg
Junie 1900
- Britse magte beset Pretoria
- Slag van Donkerhoek
- Slag van Allemansnek
- Britte beset Volksrust
- De Wet se huis word deur Britte afgebrand
- Britte beset Heidelberg (Transvaal)
Julie 1900
- Britse magte beset Rustenburg
- Britse magte beset Bethlehem
- Skermutseling by Tijgerpoort, Pretoria
- Genl. Koos de la Rey loods suksesvolle aanval teen Britte by Silkaatsnek
- Skermutseling by Dwarsvlei, Krugersdorp
- Skermutseling by Onderstepoort
- Lord Roberts verjaag Boervroue uit Pretoria
- Britse magte begin aantog van Pretoria na Komatipoort
- Op ’n krygsberaad onder hoofkommandant Christiaan de Wet besluit die Boere op 13 Julie 1900 om uit die Brandwater-kom pad te gee voordat hulle vasgekeer word
- Marthinus Prinsloo gee oor by Brandwag-kom
Augustus 1900
- Genl. Koos de la Rey loods suksesvolle aanval op Britse magte by Brakfontein, Swartruggens
- Geveg by Tijgerfontein
- De Wet vlug oor Magaliesberge
- Slag van Bergendal
- Vrylating van laaste 2,000 Britse krygsgevangenes by Nooitgedacht, Barberton
September 1900
- Formele Britse proklamasie van anneksasie van Transvaal
- Danie Theron sterf op die slagveld naby Fochville in die Gatsrand op 5 September 1900
- Paul Kruger arriveer in Lorenco Marques
- Britse magte bereik Komatipoort
Oktober 1900
- Britse magte vernietig Ventersburg
- Paul Kruger seil na Frankryk aan bood die Gelderland
- Slag van Frederikstad
November 1900
- De Wet word verslaan by Bothaville
- De Wet val Britse garnisoenstad Dewetsdorp binne
- Slag van Renosterkop
- Lord Kitchener neem Britse bevel oor by Lord Roberts
Desember 1900
- Slag van Nooitgedacht
- Genl. J.B.M. Hertzog val op 16 Desember 1900 vanuit die Vrystaat Kaapland met 1200 manskappe binne
- Kmdt. Pieter Kritzinger val die Kaapse Kolonie binne
- Boeremagte beset Britse garnisoenstad Helvetia
Januarie 1901
- Genl. J.B.M. Herzog beset Vanrhynsdorp
- Koningin Victoria sterf
- Boeremagte beset Modderfontein
Februarie 1901
- Slag van Chrissiesmeer
- De Wet se inval op die Kaapse Kolonie begin
- Middelburg vredeskonferensie
Junie 1901
- Britse magte oorrompel vroue se laager by Graspan, Reitz
- Slag van Wilmansrust
- Onderhandelinge by Waterval
September 1901
- Genl. Jan Smuts se kommando val die Kaapkolonie by Herschel binne op 4 September 1901
- Kommandant Hans Lötter se kommando gevange geneem by Cradock
- Genl. Louis Botha verslaan Britse magte by Bloedrivier
- Genl. Louis Botha val Forte Itala en Prospect aan
- Slag van Moedwil
Oktober 1901
- Kommandant Manie Maritz beset Hopefield, Wes-Kaap
- Teregstelling van Kommandant Hans Lötter
- Kommandant Gideon Scheepers word gevange geneem
- Slag van Kleinfontein
- Slag van Bakenlaagte
Januarie 1902
- Skermutseling by Bankkop, Ermelo
- Kommandant Gideon Scheepers word tereggestel
- Genl. Ben Viljoen word gevange geneem
April 1902
- Boeremagte beset Springbokfontein (Springbok)
- Boermagte begin besetting van Okiep
- Vredesonderhandelinge begin in Klerksdorp
- Slag van Roodewal
Mei 1902
- Zoeloes val Holkrantz aan
- Boere aanval op Aberdeen misluk
- Genl. Wynand Malan word op 27 Mei 1902 in die distrik Somerset-Oos raakgeskiet
- Vrede van Vereeniging word op 31 Mei 1902 onderteken
Junie 1902
- Ondertekening van vredesluiting in Melrose-huis, Pretoria
Verwysings
- Grobler, J. (2004): The War Reporter, Jonathan Ball Publishers
- Swart, M. (1998): "Anglo-Boere Oorlog skadelikste botsing op suidelike kontinent Boer én Brit het hier swaar verliese gely", Die Burger (Oos-Kaap), 29 Augustus 1998
- Van Zyl, N. (2002): "Laaste gevegte van genl. Wynand Malan", Die Burger, 25 Mei 2002
- Verskroeide Aarde: die gesprek, KykNet dokumentêr.
Eksterne Skakels
- NGSA: Die aanloop tot die oorlog
- NGSA: Die oorlog oor Suid-Afrika
- NGSA: Goud en die Anglo-Boere krisis
- NGSA: Die Jameson-inval
- NGSA: Anglo-Boere diplomasie
- NGSA: Rekenskap vir die oorlog
- NGSA: Die fases van die oorlog
- NGSA: Die einde van die oorlog
- NGSA: Johan Hattingh - Die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
- NGSA: Sandra Swart - "The terrible laughter of the Afrikaner" - towards a social history of humor




