Afrikaans
Die geskiedenis van amper alles Suid-Afrikaans.
Die Afrikaanse taal kom al ‘n lang pad en het steeds nagenoeg 6,45 miljoen eerstetaalsprekers wêreldwyd, met ‘n verdere 6,75 miljoen tweede- en derdetaalsprekers. Maar daar is al meer tekens en waarskuwings dat die taal agteruit boer en op sekere gebiede “in sy laaste ure” verkeer.
Die probleme en stryd rondom taal en voertaal in skole en universiteite staan sentraal in die geskiedenis van Suid-Afrika. Tussen 1910 en 1932, toe die twee wit gemeenskappe mekaar nog as verskillende “rasse” bestempel het, het koerante soos The Star in Johannesburg en sekere politici die Afrikaanse taalaktiviste as “rassiste” bestempel wanneer hulle die eksklusiewe gebruik van Engels in hofsake, regulasies en opvoedkundige instellings bevraagteken het.
Die skrywer C.J. Langenhoven, het toe die sleutelvraag gestel. "Hoekom is my politiek altyd rassisme en jou rassime altyd politiek?"
Op 16 Julie 2009 het dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, uitgevaar teen mense wat regte en beginsels wat in die Grondwet verskans is, manipuleer om swart studente uit te sluit en rassisme te bedryf. Volgens Nzimande gebruik die taalaktiviste konstitusionele regte om die bestaan van Afrikaanse enkelmedium skole en universiteite wat slegs Afrikaans gebruik, voor te sit en swart studente uit te sluit. Die Grondwet bepaal egter dat daar `n reg is tot onderrig in enige van die elf amptelike tale, mits dit prakties moontlik is.
In weerwil van die Grondwet probeer die ANC-regering skole of universiteite wat oorwegend of heeltemal Afrikaans-medium is, dwing om “toegang” aan swart kinders te bied deur voorsiening te maak vir Engels-medium klasse. Die Appélhof het in `n uitspraak die reg tot Afrikaans enkelmedium instellings bevestig, maar laer howe het botsende uitsprake gegee.
Die afgelope tagtig jaar was die land `n laboratorium van eksperimente met Engelse enkelmedium-onderrig vir nie-Engelse kinders, moedertaalonderrig, parallelmedium en dubbelmedium. Elke keer as `n verandering in die voertaalbeleid aangekondig is, was daar groot debatte en stryd oor die pedagogiese, politieke en maatskaplike gevolge.
Afrikaans-medium onderrig is eers in die eerste vyftien jaar na Uniewording in 1910 ingestel. In 1958 was 34,8 persent wit kinders in Engels-medium skole, 62,4 persent in Afrikaans-medium skole en 2,8 persent in dubbelmedium Engels/Afrikaanse skole.
Die Nasional Party-regering, wat in 1948 aan bewind gekom het, het besef dat voertaal in onderwys ’n gevoelige saak was. Dit is die eerste 20 tot 25 jaar van die NP-bewind versigtig gehanteer. Maar ‘n kombinasie van politieke arrogansie en kulturele onsekerheid was die aanleidende oorsaak van die Soweto-Opstand in 1976 wat ’n keerpunt in die geskiedenis van apartheid was. Duisende swart hoërskoolleerlinge en studente het teen Afrikaans in hul skole en universiteite in opstand gekom en hul protes het tot landwye politieke protes gelei.
Teen 1990 was meer as 90 persent wit Afrikaanse kinders aan enkelmedium-skole, maar die proporsie sou tot 60 persent oor die volgende twee dekades afneem. Sedert 1994 het die ANC-regering die Afrikaanse skole en universiteit probeer dwing om parallelmedium aan te bied (aparte klasse met Afrikaans en Engels as voertale) of dubbelmedium (twee tale afwisselend in dieselfde klas) om toegang aan swart leerlinge te verseker. In sommige gevalle was die druk selfs om dit afwisselend in dieselfde lesuur te gebruik (dubbelmedium). Dit was `n verwoestende aanslag op Afrikaanse enkelmedium skole.
Daar is in 2009 23 universiteite in Suid-Afrika met 36 kampusse. Op net 6 van die 36 geskied voorgraadse onderrig in Afrikaans. Op net twee (die Potchefstroom-kampus en die Bloemfontein-kampus) kan `n student nog volledig `n graad deur onderrig in Afrikaans kry.
Die proporsie Afrikaans studente aan die Histories Afrikaanse Universiteite (Stellenbosch Universiteit, Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit, Universiteit van die Vrystaat en Universiteit van Johannesburg) het almal tot die vroeë 1980's 85 persent of meer Afrikaanse studente gehad. Die proporsie Afrikaanse studente aan hierdie instellings het egter oor die laaste 25 jaar konstant gedaal.
Die druk op die voormalige Afrikaanse universiteit om toegang in Engels te verleen, kom veral uit drie oorde. Eerstens van swart studente wat feitlik net aan Engels as voertaal blootgestel was en `n goeie graad wil kry en tweedens van wit Engelssprekendes wat vlug van sommige van die ou liberale universiteite en aangetrek word na kampusse waar daar dissipline en die outydse studentelewe is.
Die proporsie Afrikaanse studente aan die universiteite wat eens wit en Afrikaans was het oor die laaste 25 jaar konstant gedaal. By die Stellenbosch Universiteit staan die proporsie studente met Afrikaans as huistaal in 2009 op 60 persent, by die Universiteit van die Vrystaat op 35 persent; en by die Universiteit van Pretoria op 40 persent. By die ou Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) (tans Universiteit van Johannesburg) het dit tot onder 20 persent gedaal as gevolg van die samesmelting van `n paar kolleges.
Taalaktiviste sien die skrif aan die muur vir Afrikaans. Hulle meen `n kosbare kultuurerfenis loop gevaar om weggegooi te word. In hulle opinie lê `n groot stryd voor vir Afrikaanssprekendes om die taal se voortbestaan te verseker.


